As jy nie betaal, gaan die Ford homself kom haal!

Bid jou aan, jou eie kar ry weg vir jou!

Verbeel jouself. Jy is laat vir werk (beurtkrag se skuld natuurlik). Jy soek naarstiglik na jou nuwe Ford se sleutel terwyl jy die laaste koue koffie afsluk. Jy kom buite maar jou ryding is nêrens te siene nie!

Hugo, bel die polisie!

Nou wat nou? Jy wou juis vandag die Ford invat want daar is groot fout. Die radio werk nie en daar is ‘n aanhoudende piepgeluid. Jou vensters wil nie oopmaak nie en jou lugverkoeling werk nie! Dit alles terwyl jy op ‘n bloedige dag in die verkeer sit in jou Ford sauna!

Maar nou is die ding skoonveld. En misdaad in Suid-Afrika kan glad nie die skuld hier kry nie. Jou nuwe Ford het vir jou weg gery! Sommer so op sy eie.

Ford wil self laat wiel met nuwe patent

Dit alles wag dalk vir jou in die toekoms as jy nie jou motorpaaiement nakom nie.

Ford het aansoek gedoen in die VSA vir ‘n patent op tegnologie wat jou radio of lugverkoeling kan afskakel, jou uit jou eie voertuig kan sluit, of dit onophoudelik laat piep as jy ‘n paaiement oorslaan. En om dit alles te kroon, kan die ding hom sommer self bestuur tot daar waar dit meer gerieflik is vir sleepdienste.

Wil jy nou meer. En jy het gedink ‘n Tesla is volksvreemde verskynsel?

Maar voor jy jou Ford op Gumtree sit, wees maar rustig. Daar is geen plan om hierdie patent noodwendig in werking te laat tree nie en dit vorm bloot deel van die motorvervaardiger se innoverende kultuur.

Hier is ‘n geheim wat Ford nie weet nie. Terwyl hul besig is om elektriese motors te ontwikkel en met sulke vreemde patente vorendag te kom sal hul nooit beheer kan neem van nuwe Ford motors in Suid-Afrika nie, want nugter weet… daar sal net nooit genoeg krag wees om die ding te laai nie.

So wees rustig. En Ford voort. 

DEEL HIERDIE ARTIKEL