Yokohama: Muizenberg se huis van papier

Hierdie papierhuis in Muizenberg is al ouer as 100 jaar en ten spyte van die Suidooster staan dit nog sterk!

Vir ‘n dame van 115 somers dra sy haar jare baie goed, veral as jy in ag neem waarmee sy aanmekaar gesit is en meer as ‘n eeu al blootgestel word aan die moordende Afrika son, die tierende Kaapse suidooster en die aanslae van soveel meedoënlose storms. Maar sy het sterk bly staan.

Muizenberg papierhuis

As jy al langs die kus van Muizenberg ry sal jy waarkynlik, sonder om twee keer te kyk, ook verby hierdie huis ry en dink dit is net nog ‘n verwaarloosde huis. Maar jy wonder tog: hoekom is die tuin so goed versorg?

Selfs toe ek foto’s van die afskilfer-verf huis neem, stap ‘n paartjie verby. Die vrou het vasgesteek en haar man gevra: “Hoekom op aarde sal iemand foto’s neem van die huis?”

Hy antwoord: “O, dis die huis wat van papier gebou is.”

Ek het omgekyk en gesien sy kyk met nuwe belangstelling na die huis.

Ek staan voor die Yokohama huis. Adres: 210 Mainroad, Muizenberg. Ek kan die spoke van die verlede voor my geestesoog sien afspeel. Hierdie huis het verhale om te vertel.

Ek wens ek kan toegang kry tot die huis. Ek sou so graag dit van binne ook wou sien. Ek wil die verhale voel wat daar afgespeel het. Die atmosfeer is geheimsinnig met die berg wat in misslierte op die agtergrond waak.

Jy verwag enige oomblik dat die deur sal oopgaan (met ‘n kraakgeluid natuurlik).

Die versorgde tuin en trappies laat jou welkom voel. Maar die die vrae bly hang.

Wat op aarde sou iemand laat besluit om hier van alle plekke ‘n papierhuis te bou? Hier aan die suidpunt van Afrika? Het die persoon geweet dit sou behoue bly deur die jare?

Ek het na antwoorde gaan soek.

Hierdie historiese huis is blykbaar in privaatbesit en is in 1906 gebou uit waterdigte papier-mâché.

Ek het aan die huis gaan vat. Dit is ongelooflik om te dink dat dit reeds so oud is, en in so ‘n goeie toestand met die moordende stormweer van die Kaap die afgelope 115 jaar.

Daar is nie baie inligting beskikbaar oor die huis nie.

Die huis is egter ontwerp en voorafvervaardig in Yokohama, Japan (vandaar die naam Yokohama-huis).

Die panele waaruit die mure bestaan, word in Japannees washi genoem; ‘n duursame pasta wat oor ‘n dun metaalgaas gesmeer word en dan word hierdie panele in houtrame aanmekaar gesit. Juis omdat die huis so naby aan die see gebou is, het die eienaares verkies dat hierdie boumetode gebruik word omdat die onderhoudskostes daaraan minimaal is. Daar is voorsiening gemaak vir uitsetting en inkrimping, wat byvoeg tot die lewensduur van die huis. Die fondasie is stewig met klip gebou. Die dak is mettertyd vervang met sinkplaat. Oorspronklike Madeira teels is nog sigbaar aan die binnekant.

Die huis het oor die jare versleg — dit is geverf met akriel wat nie voorsiening gemaak het vir die uitsetting en inkrimping van die panele nie.

Volgens die aktekantoor het ‘n sekere Kaptein Wilson die erwe verkoop aan Mossop en Garland, die bekende leerlooiery-eienaars in Suid-Afrika.

Kaptein John Wilson (verengelsde naam van Kaptein Frederick Walgren) was ‘n Sweedse matroos en aktief betrokke by die ontwikkeling van Brits-Japanese bande. Hy was Kaptein van die Sei-Kyo Maru, vragskip.

Die Muizenberg Historical Conservation Society het na bewering met die toestemming en samewerking van die huidige eienaars kontak gemaak met die Japanese Konsulaat, Yahsushi Naito, wie die huis al verskeie kere besoek het, maar Covid-19 het ook eers alle toekomsplanne vir die Yokohama-huis in die wiele gery.

Muizenberg Yokohama

Blykbaar het ‘n bekende chemikus, William Tozer, se vrou, Grace Tozer, die Yokohama huis laat bou as ‘n vakansiehuis na hul troue. Alhoewel Dr Fransen in sy boek (A Heritage Survey of the Built Environment, Lakeside, Muizenberg and St James) noem dat daar niks is wat aandui wanneer die huis presies gebou is nie, word dit beweer dit is na 1890 gebou, maar 1906 word oor die algemeen aanvaar.

Die Yokohama-huis vorm deel uit van die Muizenberg se Historical Mile.

DEEL HIERDIE ARTIKEL