Wenke vir Voëlkyker-groentjies

As jy nie ‘n oggendmens is nie, moet jy maar jou wekker stel as jy wil gaan voëlkyk!

Paul Nkhumane is een van Suid-Afrika se beste gekwalifiseerde voëlgidse en gebaseer in Magoebaskloof. Hy stel jou sommer vinning-vinning op jou gemak as jy nie ‘n gesoute voëlkyker is nie.

In Woodlands Forest slinger die pad deur die groen hart van Limpopo; mosbedekte bome reik na die hemelruim op soek na die son. Digte varings groei welig in die skadu’s en rankplante gryp met gretige blaarvingers om en om die ander plante. Die immergroen inheemse woud hipnotiseer jou en dan steek Paul vas in sy spore.

“Het jy dit gehoor?” vra hy “dit is die baie seldsame swartoogboslaksman.”

Paul het ‘n fyn oor en ‘n fyner oog, hy ken al die name van die voëls, selfs die Afrikaanse name ook.

Met ‘n kop skuinsgedraai na die digte woud, soek jou oë deur die bosse na die laksman terwyl Paul sy ryk voëlkennis deel. Hy verduidelik alles. Van die voëls se gedrag tot hul gekleurde vere, die verskeie bome en plantegroei.

En dan sien jy dit, ‘n swartoogboslaksman wat fladder van die een tak na die volgende en Paul laat wiel weer met die kennis terwyl hy ‘n paar wenke deel vir beginner voëlkykers.

Voëlkyk

Wenke vir Voëlkyker-groentjies

1) Wees geduldig.

2) Wees nuuskierig.

3) Kry ‘n verkyker (en wees suinig met jou beursie en moenie ‘n Swarovski op jouself trek nie). Toets ‘n paar voordat jy jou keuse maak.  Is dit nie te swaar nie, voel jy gemaklik genoeg om dit te hanteer? As jy ‘n bril dra, maak seker dat jy genoeg oogverligting het (die afstand tussen die oogstuk en jou oog).

4) As jy nie ‘n oggendmens is nie, moet jy maar begin gewoond raak om vroeg wakker te word. Vroegoggend is ‘n beste tyd vir voëlkyk. Jy weet wat hul sê, the early bird gets the worm… of liewer die vroegoggend wakker akker kry die voël.

5) Kry ‘n voëlgids (Roberts Bird Guide of Sasol Bird Guide is gewild).

 5) Laai ‘n toep af op jou slimfoon.

Die Newman’s Birds toep is R240. Daar is 975 voëlspesies met gedetailleerde beskrywings (illustrasies en foto’s), en 800 roepsoorte. Jy laai die volledige toep af, dus het jy nie ‘n internetkonneksie nodig as jy die bosse invaar nie.

Dan is daar ook die Sasol eBirds-toep teen R379,99 (wat volgens bewering meer gedetailleerd en akkuraat is as ander toeps), met 950 voëlspesies, hoorbare fluite en ‘n slim soekfunksie.

Beginners kan die Sasol Birds for Beginners-toep (gratis) aflaai wat vinnige feite, foto’s en videogrepe van 46 algemene Suider-Afrikaanse voëls bied.

Let wel: Voëlroepe / fluite het verskillende betekenisse; soos wanneer hy sy gebied moet verdedig, waarskuwings roep teen gevare of wil flankeer met ‘n gevleuelde skoonheid. As jy die voëls probeer lok met jou eie nagemaakte fluit of met die toep se voorafopgeneemde roepe, kan dit nadelig vir die voëls wees.

6) Begin jouself te vergewis van verskillende voëlspesies; kyk na die koppe en snawels, die vorm en grootte, het dit ‘n lang of kort stertjie, wat van die bene en voete, die kleure en patrone?

7) Luister na die geluide.

8) Gaan op ‘n voëlkyktoer; dit is nogal iets om ‘n voëlgids in aksie te sien.

9) Sluit aan by ‘n voëlklub. 

10) Respekteer die omgewing sowel as ander voëlkykers; laat geen spore agter nie, wees stil en moenie skielike bewegings maak nie.

Paul Nkhumane is een van die gidse by Kurisa Moya, as jy ooit in die area van Magoebaskloof is, is dit ‘n goeie keuse om daar te oornag. Besoek hul webwerf: www.krm.co.za.

DEEL HIERDIE ARTIKEL