Afrika voel anders vandag, ’n bietjie armer, asof die kontinent – asook die wêreld – een van haar ledemate verloor het.
Na 4 dekades van musiek en ’n totaal van 20 albums, is daar is ’n diep leemte in almal se harte; Johnny Clegg is op 16 Julie 2019 oorlede na ’n lang stryd met kanker en word oorleef deur sy vrou van 31 jaar, asook sy twee seuns.
Clegg is in Engeland gebore en het verhuis na Zimbabwe waar hy gewoon het tot op die ouderdom van 7 voor hy saam met sy ma (’n inboorling van Zimbabwe) verhuis het na Suid-Afrika. Dit is hier in Suid-Afrika waar Clegg sy liefde en passie vir die Zoeloe-kultuur ontwikkel het en blootstelling gekry het aan Zoeloe straatkitaarmusiek; hy het sy stiefpa, ’n misdaadverslaggewer, vergesel na ‘townships’ en Sipho Mchunu ontmoet saam met wie hy die groep Juluka begin het. Juluka (wat ‘sweet’ beteken in Zulu) was bekend vir hul tradisionele Zoeloe- en popmusiek wat gedurende die jare van Apartheid verban was om uitgesaai te word. Jare later het hy nog ’n groep gestig, Savuka (wat beteken ‘Ons Het Opgestaan’) saam met Dudu Zulu en sedert 1993 het hy sy sololoopbaan nagevolg.
Johnny Clegg is vereer met verskeie eredoktersgrade en filantropiese pryse; in 1991 ontvang hy die Chevalier des Arts et Lettres van Frankryk, in 2012 die Orde van Ikhamanga van Suid-Afrika se regering en 2015 is hy vereer deur Koningin Elizabeth II met die Officer of the Order of the British Empire.
Hy was ’n legende, Afrika se wit Zoeloe, ’n inspirasie en met sy musiek het hy kulturele struikelblokke oorgesteek, hy was soveel meer as net ‘n musikant.
Laat die klanke van Afrika pols deur jou are. Draai daardie volumeknoppie ’n bietjie harder en luister.
Luister en voel.
Voel die ritme, die slaan van tromme, die hart en die omhelsende boodskap van kultuur wat Clegg met soveel oorgawe aan ons almal oorgedra het.
Hier is slegs ’n paar liedjies – van vele – waarvoor Johnny Clegg vir altyd onthou sal word.
Asimbonanga – 1999 – Johnny Clegg saam met voormalige Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela.
Scatterlings of Africa – Johnny Clegg
Impi – Johnny Clegg en Juluka, tydens ‘n vertoning in Kaapstad
Johnny Clegg – I’ve Been Looking ft Jessy Clegg
Luister ook na hierdie huldeblyk, opgeneem in 2018, deur 50 musikante