As Suid-Afrikaners is ons net mooi glad niks gewoond as dit kom by sneeu. Wanneer die nuus uitkom dat die wit vlokkies ‘n berg êrens gaan tref dan wil almal spore maak na ‘n rigting om dit te sien.
En wie kan ons blameer?
Wat is nou mooier as ‘n wit sprokielandskap en die kans om kinderdrome van sneeumanne bou uit te leef?
Hier is 10 plekke waar jy die sneeu kan gaan soek in winter
Oudtshoorn, Wes-Kaap: Daar is meer as net die Kangogrotte in Oudtshoorn, hierdie plek kan ook vrek koud word en as die sneeu val is jy omring deur die Swartbergpieke, pragtig getooi in wit.
Nieu Bethesda, Oos-Kaap: Hierdie kleine Karoodorpie kyk uit op die Sneeuberge, en dit verander sommer vinnig-vinnig in ‘n ander tipe Karoolandskap as die 40°C waaraan jy gewoond was.
Matroosberg, Wes-Kaap: As jy opsoek is na ‘n vinnige sneeu-ontsnap, lekker naby aan die Kaap, kyk nie verder as Matroosberg Natuurreservaat nie. As jy jou eie sneeubord het kan jy jouself gereed maak vir hope avontuur.
Cederberg, Wes-Kaap: ‘n Lagie wit stof is die kersie op die Cederbergkoek wat bekend is vir sy rotsformasies, asook die hope wandelpaaie en avonture vir rotsklimmers en bergfietsryers.
Hogsback, Oos-Kaap: Baie glo dat J.R.R Tolkien sy inspirasie uit die Amatolawoud gekry het, ‘n plek wat wemel met feëverhale en towerkuns, en as die sneeu val word die Hogsback-sprokiesverhaal ‘n winterwonder. Daar is selfs ‘n fees, Winter Celebration, om die winter behoorlik te verwelkom.
Lesotho: Hierdie land binne in ons land kry omtrent ‘n stewige ransoen van sneeu in die winter. Wees versigtig as jy deur en oor die passe ry, swart ys op die pad is lewensgevaarlik.
Rhodes, Oos-Kaap: Rhodes, Lady Grey asook Barkly Oos ken van koud kry; die kleine dorpies word omring deur hoë berge en passe terwyl die een historiese huis na die ander die strate verfraai.
Sutherland, Noord-Kaap: Ons almal weet dat Sutherland wegloop met die trofee vir bibberweer, so dit kom as geen verassing dat wanneer die res van Suid-Afrika somer vier, is daar altyd ‘n kans vir ‘n tikseltjie sneeu in Sutherland.
Underberg, Kwazulu Natal: Underberg is ‘n prentjiemooi dorpie geleë aan die voet van die Drakensberge se Hlogomapiek wat 1904 meter in die lug uittroon. Jy kan maar ‘n handskoen of twee in jou sak gooi as jy jouself hier bevind in winter.
Golden Gate Hoogland Nasionale Park, Vrystaat: Clarens en sy buurman, Golden Gate Hoogland Nasionale Park, lê aan die voetheuwels van die Malutiberge, en dit grens aan Lesotho. Terwyl Clarens ‘n dorpie propvol kunstenaars, oulike winkels en met ‘n boetiek-bierbrouer is, is die park bekend vir die goue kleure op die sandsteenformasies as die son op dit skyn.
Wees versigtig in die sneeu!
Onthou om altyd ekstra versigtig te wees wanneer jy in sneeu rondrits; jy moet jou eie vaardighede asook jou motor se vaardighede goed onder die knie hê voor jy op ‘n sneeupad ry.
- Weet hoe lyk die weer voor jy waai. Snow Report SA is ‘n goeie plek om weg te spring indien jy inligting soek.
- Hou jou ligte aan.
- Gebruik ‘n lae rat vir beter traksie.
- Stop geleidelik, saggies en stadig en maak seker jy het genoeg spasie.
- Bly warm.
- Gaan met die regte voertuig of ry liefs met Jan-tuisbly-se-karretjie.