Skatryk Suid-Afrikaners: só spandeer hul die biljoene

Al ooit gewonder hoe spandeer Suid-Afrika se rykste van die rykes hul geld as dit kom by vakansies, karre en restaurante?

Onthou jy die Afrikaanse treffer , “Ek sou kon doen met ‘n miljoen. Ja, ek sou myself met net ses nulle kon versoen”?

Nou ja, in die vroeë 1990s toe Lucas Maree die liedjie geskryf het, het ‘n miljoen heeltemal anders gelyk. Vandag kyk jy net na ‘n blink nuwe motor of ‘n klein dorpseiendom en die miljoen pak sy tassie vinning-vinning en verdwyn.

Vir vandag se skatryk Suid-Afrikaners is een miljoen rand so bietjie meer as kleingeld en alhoewel daar slegs 5 dollar-biljoenêrs is in ons land en die getal van dollar-miljoenêrs in Suid-Afrika aansienlik geval het in die laaste jaar – van 43 600 tot 39 200 (volgens die 2019 South African Wealth Report by New World Wealth) is daar steeds ‘n lang lys van rand-biljoenêrs in Suid-Afrika.

Forbes lys die rykes elke jaar en in Suid-Afrika is die diamantman, Nicky Oppenheimer, die een met die meeste blink sente in die bank (met ‘n netto waarde van R103.2 biljoen) terwyl ander soos Johann Rupert, Patrice Motsepe, Koos Bekker en Michiel le Roux kort op sy diamanthakke volg; daar is ook 94 rand-biljoenêrs in Suid-Afrika (oftewel, centi-miljoenêrs, $100 miljoen+).

Maar het jy nou al ooit gewonder hoe spandeer die manne hul geld?

Volgens ‘n onlangse berig van eNCA wemel Johannesburg, Kaapstad en Durban met die meeste dollar-miljoenêrs en hul gunsteling plekke om vakansie te hou in Suid-Afrika is onder andere die Kruger Nasionale Park (en natuurlik die fênsie privaat lodges in die area), Kaapstad (hello Kampsbaai!), Umhlanga en die Tuinroete.

Gholf en vlieghengel word gelys as stokperdjies terwyl hul motorvoorkeur blink name insluit soos Rolls Royce, Bentley, Lamborghini, Porsche en Ferrari.

Die restaurante wat hul uitkies sluit plekke in soos La Colombe in Kaapstad en hul suster-eetplek, La Petite Colombe, in Franschoek. Die Sjef se Menu is R1495 (dit is ‘n 11-gang maaltyd) en nodeloos om te sê, maar hierdie restaurante het ‘n hele lys van toekennings al ontvang.

Nou ons weet nie waar hul tuisgaan op vakansie nie, dalk besit hul ‘n strandhuis hier, daar en orals, maar as jy ooit gewonder het hoeveel, wat en waar Suid-Afrika se duurste hotelle is, maak jouself reg vir ‘n groot skok!

Kaapstad blaas die vlam hoog as dit kom by duur blyplekke en die penthouse van die Silo Hotel is meer as R150 000 ‘n nag gedurende die besige seisoen; die kamer het ‘n uitsig van Tafelberg, Seinheuwel asook die V&A Waterfront terwyl jy jou eie privaat bioskoop het, wi-fi, vonkelwyn, ontbyt, beperkte toegang tot die minikroeg en jy kry ‘n geskenk  as deel van jou verwelkoming. Die Silo Hotel is net bo die Zeitz MOCAA – Afrika se grootste kontemporêre kunsmuseum) en vir diegene wat nie R150 000 of selfs R1 wil uitgee nie, maak die Zeitz MOCAA sy deure gratis oop op Woensdae tussen 11:00 en 13:00.

Dit is nie net in die stad waar die rande rol nie, diegene wat ‘n luukse safari ondervinding wil hê kan dit kry van Mpumalanga tot die Noord-Kaap; Tswalu Kalahari se pryse begin by R98 000 per nag vir 2 tot 4 mense terwyl Leopard Hills jou so R17 800 sal uitwerk per nag per persoon. Hierdie spog safari lodges sluit gewoonlik alle etes in asook twee daaglikse wildritte en ‘n paar ander aktwiteite.

Maar moenie dat al hierdie nulle jou onder kry nie. Almal rol dalk nie in die rande nie, maar daar is steeds ‘n string van bekostigbare geleenthede, plekke en aktiwiteite vir almal om te geniet in Suid-Afrika.

DEEL HIERDIE ARTIKEL