Motoriste in die Kaap word lekker gekul met fop-verkeersmanne wat staan met spoedkameras in ’n poging om die voet-in-die-hoek drywers af te skrik.
Lewensgroot staan hierdie blou manne op Frans Conradielaan en soortgelyke spietkops is ook gemerk onder die R300-brug en in Vishoek.
En glo dit of nie, alhoewel dit dalk die onmiddelike gedagte en uitlating van ‘o f*k!’ na o fop!’ verander, werk hierdie staalknipsels.
Kul jou hier, kul jou daar, maar motoriste verminder wraggies hul spoed.
Maar hierdie fop-verkeersmanne is nie nuut nie. Gedurende die paasseisoen in 2017 was daar ’n lewensgroot verkeersmotor langs die N1/N4 roete wat deel gevorm het van die Bakwena Padagentskap se inisiatief om spoedvarke hok te sit en dit het deel gevorm van hul COSBI (Control of Speed by Illusion) veldtog.
In ’n onderhoud met Wheels24 deel Charmaine van Wyk, die woordvoerder van Bakwena N1/N4 dat die grootste probleem is die gebrek aan respek vir verkeersoffisiere en sy voeg by dat die verkeerspolisie nie op die paaie geplaas word om jou dag te bederf of jou reis te vertraag nie, maar om te verseker dat jy by die reëls hou vir jou eie veiligheid, vir die veiligheid van jou passasiers en ander padgebruikers.
Tien punte vir kreatiwiteit, of wat dink jy?
Maar moenie té gewoond raak aan dit nie, voor jy jou kry lag jy dalk net vir een van hierdie fop-manne langs die pad en voor jy weet begin hierdie staal-geknipte-spietkop met jou praat en stap nader met jou boete.
O f*k.
Foto verskaf.