Namibië se grootste raaisel: die klipmense van Kaokoland

Die klipmense van Kaokoland laat wonder mense al vir jare. Elkeen is genommer, maar wie hulle gemaak het weet niemand nie.

Die klipmense van Kaokoland staan heup hoog en is meesterlik geskep uit die rots van hulle omgewing. Uit elkeen se postuur straal sy persoonlikheid. Sommige staar ver oor verlate vlaktes – opsoek na verdwaalde stofwolkies in ‘n vergete wêreld.

Vasgevang in ‘n tydlose eensaamheid staar hulle gesigsloos oor hulle verdorde omgewing. Oorgelewer aan die uiterste elemente van die natuur. Hulle swyg vreedsaam oor hulle toekoms. Maar tog bring hulle vreugde aan die wat hulle soek en vind.

klipmense van Kaokoland

Hulle is gemerk tot nommer 37, maar nie almal is al gevind nie. Die eerste een, is heel modern, met selfoon teen die oor, regoor ‘n kerk in Windhoek-wes te sien. Teen die klipwande van Van Zyl’s pas sit een en hou wag oor die dorre natuur. Een hang waghalsig teen ‘n rotswand. Nog een bid vir reën. Elkeen vertel sy eie storie. Doer anderkant lê een op sy rug met sy hande agter sy kop en tuur bedags na die eindelose blou lug opsoek na wolkies en snags bewonder hy die sterrehemel.

Elke figuur het ‘n skyfie met ‘n nommer en ‘n boodskap waarheen dit gaan.

Iewers het iemand ‘n blikkie in ‘n klipman se hand gestop, sodat hy kan geld bedel vir ‘n sambreel teen die verseggende son. 

Blykbaar begin hulle by Puros in die suide, Van Zyl’s pas in die ooste, Otjinungua in die noorde en daar is selfs in die Skedelkuspark in die weste van hulle opgemerk.

klipmense van Kaokoland
klipmense Namibië
klipmense Namibië

Wie hulle gemaak het weet niemand nie en die wat weet, swyg saam met die stil figure wat duisendes in hul 4x4s laat klim opsoek na die klipfigure.

Die kunstenaar het dit reggekry om ‘n opelug galery oor ‘n wye gebied te skep.

Om enige raaisel begin legendes te vorm – sommige vertel dat klipmanne regte mense was, wie se liefde vir die land so groot was dat hulle vrywilliglik tot klip verander het om vir ewig deel te word van hierdie vergete landskap.

En miskien as jy die tydlose eensaamheid van die Kaokoland gaan opsoek om jouself te vind, sal hierdie klipmense jou met hulle stilte omarm.

Baie dankie aan House on the Hill asook Lanie Du Raan Badenhorst vir die toestemming vir die gebruik van foto’s.

DEEL HIERDIE ARTIKEL