Mopaniewurm pizza… soek jy hom met of sonder termiete? Wel, deesdae “kruip” dit sommer bo-op jou bord in jou eie kombuis. Maar jy kan ook aan hierdie lekkerny smul wanneer jy ‘n restaurant besoek. Van Namibië en Botswana tot Suid-Afrika en Zimbabwe.
Dis goeie wurms… raar maar waar!
Terwyl die eet van mopaniewurms, en die gebruik daarvan, al vir jare deel vorm van vele kinderherinneringe in Afrika, word dit deesdae al hoe meer gewild. Veral onder toeriste. Waaghalsiges is voor in die koor wanneer dit kom by proe. Party hou daarvan, ander nie. En sommige sê dit smaak soos biltong!
Maar hoe en waar wurm hierdie tendens hom in op disse?
Wel, mopaniewurms is ‘n groot eetbare ruspe, ook bekend as, madora, amacimbi of masontja, wat hoofsaaklik maar nie uitsluitlik van mopanieboomblare leef. Dit is omtrent vingerdikte en volgens Wendy Vesele-Ntimbani, is die woord “wurm” eintlik nie korrek nie. Dit is ‘n ruspe is van ‘n keisermot, die Gonimbrasia belina.
Wendy is ‘n Suid-Afrikaanse ingenieur van Limpopo, en vir haar is die mopaniewurm (oftewel, ruspe), niks nuut of vreemd nie.
Vanaf ‘n jong ouderdom het sy saam met haar ouers diep in die mopaniewoude gegaan om hierdie ruspes te kry wat dan later gebruik is in vele disse. G’n wonder sy het haar eie besigheid, Matomani, begin om haar vernuftige idees en lekkernye aan die res van die wêreld bekend te stel nie! Sy het selfs in 2022 die entrepeneurstoekenning ontvang by die Food XX Awards.
Mopaniewurms het talle gesondheidsvoordele wat jy net nie kan miskyk nie. Volgens navorsing is dit nie net voedsaam nie, maar bestaan ook uit 60% proteïen met hoë vlakke van yster en kalsium.
Mopaniewurms word ook ingelê met tamatiesous of rissiesous. Die wurms word gewoonlik gekook in gepekelde water, en dan word dit in die son drooggemaak of gerook. Dit word geëet saam met pap en rys gewoonlik; sommige verkies om die wurms te rehidreer en dan bros te braai met uie, tamaties en knoffel terwyl ander rissies byvoeg vir ‘n ekstra skop.
Dit is ook te koop in blikkies regoor Suider-Afrika, of jy kan dit op Takealot bestel (so nou is daar geen verskoning as jy dit nog altyd wou proe nie).
Matomani: die vele gesigte van die mopaniewurm
Die eet van insekte is veel meer as ‘n foto-geleentheid vir toeriste. Volgens Wendy word dit al hoe meer algemeen, veral as ‘n mens kyk na die wankelrigheid van kosvoorsiening en die prysverhogings van diereproteïene.
Die passie vir die wurm, asook die omgewing en die gemeenskappe, is ooglopend as jy gaan loer na Matomani se webwerf. Sy deel ook graag resepte. Van kolwyntjies en pannekoek, en ja… ook pizza!