Soek jy die koeksisters waaraan Madiba in 1994 gesmul het tydens die beraad van 85 lande met 400 afgevaardiges en tydens die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi, beduie almal jou net na een plek toe.
En Madiba is nie die engiste een nie. Ek mis Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, net-net.
Doer by N1-city, by die verkeersligte in Giel Bassonrylaan gaan jy oom Arno sien staan: ‘n Addis bak vol koeksisters, hoed, donker bril en rooi uniform. Op die sak staan: The Taste of Perfection. Arpin Koeksisters.
Die Arpin-familie vleg nie koeksisters nie. Hulle draai koeksisters. Dit is nou Arno, Hannelie, en dogter Madelein, wat deesdae haar pa se regterhand is met die bak en brou van die beroemde koeksisters.
Hulle spring reeds in die klein ure van die nag aan die werk, om nagenoeg ‘n duisend koeksisters klaar te maak wat verkoop moet word. Sommige is bestellings. Meeste word egter op straat verkoop.
Arno vertel dat hy al ‘n toeristeaantreklikheid is. Veral nadat hy op twee oorsese TV programme verskyn het, The Matt Talbot show – The Taste of South Africa en Delicious Destinations Cape Town. Nou kontak mense hom van Australië tot Kalifornië. Juis toe ons met hom gesels kom daar ‘n WhatsApp deur van ‘n volksvreemde nommer.
Dit is Silvi en Paul Smith: “We saw your stall and yourself talking on a TV food documentary in the U.K. So we tracked you down and yes we agreed the best koeksisters we have ever tasted. We will be in CT in Feb/March next year. Please remind us what days you operate.”
En met die WhatsApp kom ‘n foto wat hul saam met Arno geneem het die vorige keer toe hulle in Suid-Afrika was.
“Daar was hierdie man van Kalifornië wat my twaalf uur in die nag bel, hy is oppad lughawe toe met ‘n Uber, hy het van hierdie TV kosprogramme gesien en wil koeksisters hê asseblief,” vertel Arno.
Hy verkoop sewe dae per week koeksisters op straat. Maandag tot Saterdag van 11h00 tot 16h00 en Sondae van 10h30 – 13h00.
Die goot koeksister bak het in 1992/1993 begin en is uit nood gebore. Geldjies was skraps en Hannelie het met die idee gekom dat hulle koeksisters moet begin verkoop. Albei het vir die staat gewerk en sy het gesien hoe die arm mense hulle geldjies neem en gaan koekies bak en dit weer kom verkoop. Hannelie het die resep by haar tannie, Koba Rademeyer, ook van Goodwood, gekry.
Hannelie vertel: “Binne ‘n maand of twee het dit ons petrol geld werk toe en terug betaal. Nie lank daarna toe dek dit ons kosgeld. Vir ‘n jaar het dit so aangegaan. Ons kind was siek. Dit was ‘n moeilike tyd. Ek het klaar gemaak by die staat. Ek het gedink Arno gaan aanbly, maar nee, ‘n week nadat ek klaar gemaak het toe dros hy ook,” lag sy en kyk na haar man.
Hier val Arno haar in die rede: “Die eerste week nadat ons volstoom begin koeksisters bak het, maak ons meer as wat ons saam verdien het in een maand. Ons het die koeksisters toe verkoop teen R5 per dosyn. Ons moes tannie Koba se resep so bietjie aanpas, want die koeksisters moes ‘n langer raklewe hê. En dit moes nie droog raak nie. Die sous moet vasgevang bly binne die koeksister self. Ek het met die resep begin speel, bietjie hier vermeerder en bietjie daar verminder en die resep myne maak.”
Die meeste koeksisters wat hulle al gebak het was tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995. Mandela het na die beraad in 1994 na mev. Crous – wat die spyseniering gedoen het en cocktail koeksisters by die Arpin familie bestel het – spesiaal kom vra waar sy die koeksisters gekry het, want dit was die lekkerste wat hy al ooit in sy lewe geëet het!
“Toe Tony Papijanus my vra om weer koeksisters te bak tydens die Wêreldbeker, het ek geweet Madiba gaan weer daarvan eet!
“Ons het ons half disnis gebak. Ons het dwarsdeur die nag gebak, en die volgende oggend toe hulle dit kom haal was ons nog nie klaar nie. Toe moes ons nog amper ‘n duisend bak wat nodig was net vir daardie dag.
“Ons het besef ons het hulp nodig. Hannelie se pa kom help toe, en toe moet ons met hierdie groot breë Ford koeksisters gaan aflewer. Toe ons daar kom, staan ons kilometers van die plek waar ons moet aflaai. Twee rye motors langs die pad. Links en regs. Bankvas en niemand kan beweeg nie. Ek gaan vra toe so Nissan bakkie – wat deur polisiemanne beset was – om hulp, menende dat ons die koeksisters op die bakkie laai om betyds te kan aflaai. Maar die een polisieman skree net: ‘Volg my!’ en daar gaan die polisie met die klein bakkie en ek agterna met hierdie groot Ford. Dat ek nie een kar raak geskraap het met my breë kar nie is ‘n wonderwerk! Maar twaalf uur toe stop ek voor die plek, en skoonpa sê ‘Amen!’ en maak sy oë oop. Ek sê: ‘En nou pa?’ en toe antwoord hy, ‘Nee,ek het net my gebedslewe op datum gekry.”
Arno het nie juis stokperdjies nie, maar sing graag en speel kitaar en het blykbaar ‘n gospel CD uitgegee terwyl Hannelie deesdae tuisteskepper is en klere maak.
Op ons vraag hoekom op straat verkoop en nie ‘n eie unieke koeksisterwinkeltjie oopmaak nie, antwoord Arno: “Ek betaal belasting. Ek is ‘n geregistreerde maatskappy, maar die overheads is te veel. En onthou, ek is mos Kaapstad se toeristeaantreklikheid. Ek is ‘n internasionale celebrity!”