As ‘n gatsby vernoem is na ‘n rofstoeier, dan moet jy maar weet hoe om te vat en hoe om te hap, want jy gaan al jou hande en tande nodig hê.
‘n Gatsby is so eie aan die Kaap soos Tafelberg. Rashaad Pandy, die eienaar van Super Fisheries in Athlone, het geboorte gegee aan die eerste gatsby in 1976. Met slegs ‘n paar bestandele het dit sommer so per ongeluk gebeur een aand toe hy kos gemaak het vir ‘n paar manne met brood, polonie, tjips en atchar. Pandy vertel dat die een toe afhaak en sê: Laanie, it’s a smash, it’s a Gatsby smash!
Vandag het die oorspronklike polonie-gatsby ‘n paar ander gesigte ook: van vis en kalamari tot beesvleis en weense worsies. Maar die broodrol is altyd gelaai met twee dinge: vars gebakte slap tjips en ‘n liplekker sousie wat teen jou vingers afloop wanneer jy hap.
Net soos jy nie Durban kan besoek sonder om ‘n bunny chow te eet nie, kan jy nie die Kaap beleef as jy nog nie aan ‘n gatsby gesmul het nie. En as jy regtig braaf is wag daar ‘n elle lange gatsby vir jou by MCD wegneemetes in Eersterivier, Kaapstad.
Van ‘n groot droom tot ‘n groot gatsby
“Moenie vir mense kos voorsit wat jy nie self bereid is om te eet nie!” vertel Henry (49), die eienaar van MCD, en die man agter die 2.5 meter lange gatsby.
“Ek en my vrou was by ‘n bekende familierestaurant. Toe ons die rekening kry kom die gedagte by my op: wat as die familie groter was? En ons leef in moeilike tye. Toe dink ek: ons Kapenaars is versot op gatsbys. En die gedagte bly by my. Ek is gek oor WWF, veral The Undertaker. Hy is my gunsteling. As ek ‘n gatsby kan maak wat ‘n hele familie kan voed, kan ek dit vernoem na The Undertaker. Want as hy sy entrance maak is die ander ouens mos al bang voor hy in die kryt klim!” skerts Henry.
Woolies mag dalk meter-lange baguettes verkoop, maar ‘n brood van 2.5 meter is nie iets wat jy om elke hoek en draai gaan kry nie. Henry het dus ‘n bakery gekry wat spesiaal begin bak het vir MCD; dit het natuurlik aanpassing geverg, maar die resultaat is bobaas en sy klante kan daarvan getuig.
Op ‘n Saterdag maak hul maklik 15 van die 2.5 meter The Undertaker gatsbys. Dit is gewild en lekker. En om twee manne in die straat te sien afstap met ‘n gatsby tussen hulle is nie meer ‘n snaaksigheid in Eersterivier nie.
Sy vrou, Diane, en sy dogter, Alecia, is sy steunpilare in die familiebesigheid terwyl Asley Jackson, voormalige sjef van die Somerset-Wes se Lord Charles Hotel, sy regterhand en bestuurder is.
MCD bied ‘n wye keuse van gatsbys aan met ook verskeie vulsels, van eier en kaas tot tamatie en blaarslaai. As die groot honger jou dus pak, en jy sien kans vir ‘n lekker gatsby, gemaak deur mense wat omgee, stoot jou motor se neus in die rigting van Forest Drive, Eersterivier.
‘n Klein honger is ook okay, want die spyskaart is propvol verrassings en die pryse meer as bekostigbaar.