Op ‘n goue sonskyndag ry ek uit Kaapstad met die N7 op pad na Malmesbury. Ek loop vrywilliglik vas in ‘n oase van 347 lywe, 694 oë en 1388 voete.
By die hek sien ek hul kyk my so uit die hoogte aan om eers die water te toets.
En sommer nog voor ek deur die hek glip slaag ek — sommer cum laude — en moet eers my kamera en alles wat ek dra haastig neersit op die naaste tafel, want ek het al my hande nodig.
Ek vryf. Ek streel. Ek gee liefde.
Dit is ‘n oase van 347 lywe, 694 oë en 1388 voete. ‘n Katoase genaamd, Lucky Lucy.
Lucky Lucy: ambassadeur vir die stemloses
Lucky Lucy is gestig in 2010 nadat die stigterslede ‘n dragtige hond gered het van ‘n spoorlyn waar sy vasgemaak was met ‘n draad. Na vele treine was haar voorvoet onherstelbaar vergruis, maar hierdie dapper mamma het oorleef. Vinnig-vinnig het sy bekend geraak as Lucy, oftewel weens haar geskiedenis: Lucky Lucy.
Lucky Lucy, ‘n geregistreerde NWO, is nie net ‘n klein liefdadigheidsorganisasie wat die wêreld probeer red nie, maar ook ‘n trapklip van hoop vir verwaarloosde en mishandelde diere. Hulle visie is veelvuldig: om soveel as moontlik diere te steriliseer, om mense te leer oor geregtigheid, respek en barmhartigheid, om kos te voorsien (vir mens en dier in voorheen benadeelde gemeenskappe), om sosiaal verantwoordelik te wees en gemeenskapsbemoediging te voorsien, en dan ook om diere te red, te rehabiliteer en ‘n huis vir hul te vind.
Wêreldwyd hoor jy die uitroep na aanneming luidkeels: Adopt, don’t shop. En Lucky Lucy is een van vele organisasies wat pleit by toekomstige troeteldiereienaars om liefs ‘n vir-altyd-huis te gee aan een van hul 347 katte (en daar is honde ook).
Oud en jonk paradeer rond op die gronde. Dit is net katte waar jy kyk. Sommige kom haal jou sommer. En ek het al my hande nodig.
Ek vryf. Ek streel. Ek gee liefde.
Katte het reukkliere in hul wange, voorkop, ken en aan die onderkant van hul sterte. Om teen jou te vryf is ‘n liefdevolle gebaar om ‘n verhouding met jou op te bou. En as hulle jou aanvaar het hulle ‘n manier om diep in jou hart te klouter… genoeg om enigiemand ‘n katliefhebber te maak.
Ek is voorwaar in ‘n katoase!
Dit is net een groot vreugdevolle deurmekaarspul. Een wil mooier wees as die ander. En hulle weet presies hoe om jou om hulle teddiebeer-kussinkie–tone te draai.
Die een kyk jou knipoog aan. ‘n Ander trek jou aandag deur te rol en magie te wys. Asterix met die uitroepteken op sy neus beloer jou vanuit sy skadukol. Die ander een maak sy stem dik hier langs jou: “Miaaaau! Kyk af. Kyk na my. Ek is mooi. Vryf my pels. Gee my ‘n drukkie. Doen net iet, sodat ek my suiwerste purr kan uitlaat, net vir jou. Hier, vat ‘n kop stamp!”
Van hulle kyk jou aan met ‘n ou-wêreldse kyk in hulle oë (soos Maddox, regs onder).
Katte gee onvoorwaardelik liefde. Solank jy hulle laat glo dat hulle die nommer een prioriteit in jou lewe is.
As ‘n kat op jou skoot klouter en daar aan die slaap raak moet jy dit beskou as die grootste kompliment. Gedurende slapenstyd is hulle is op hul kwesbaarste. En hulle vertrou jou.
Lucky Lucy het ‘n pragtige en veilige — tog tydelike — tuiste geskep vir hierdie katweeskinders met die hoop dat elke viervoetige ‘n permanente huis sal kry.
Elkeen het sy eie storie. Elkeen het ‘n naam. Elkeen se naam word onthou. Vir geen oomblik word hulle van hul katwaardigheid gestroop nie. Hier kry hulle liefde.
Om ‘n hond of kat te koop wat opreg geteel is is iets van die verlede. Daar is soveel diere wat smag na ‘n huis en Lucky Lucy pleit saam met die wêreld: adopt, don’t shop.
Bo en behalwe aanneming kan die publiek Lucky Lucy ook op vele ander maniere ondersteun. Jy kan gaan kuier, en speel en selfs honde gaan vat vir ‘n stappie tudens hul volunteer days. ‘n SMS kan gestuur word aan 48899 om ‘n R10 donasie te maak, jy kan jou MySchool Card swiep, en daar is nog veel ander maniere om betrokke te raak. Gaan loer gerus op hul webtuiste, www.luckylucy.org.
‘n Wêreld sonder katte klink maar vaal.
Jy kom huistoe. Geen viervoet wat vir jou by die hek wag nie. Geen krulstertlyfie wat met daardie knaende miaau nader draf en teen jou bene vryf nie.
Niemand om jou geselskap te hou as jy die inkopies wegpak nie. Niemand wat jou van jou kussing afstoei in die nag nie. Geen onverwagse trofee wat voor jou voete neergelê word om te spog: “Kyk, ma! Ek het dit gevang vir jou!”
Geen blink oog om aan jou gesig te kom ruik en jou ‘n kop stamp te gee nie. Geen katsprong in die leë kartondoos wat jy neersit nie. Niemand om te veg met jou voete nie.
Geen ek-ek-ek-ek as die duiwe buite jou venster pronk nie. Geen piepgeluid van die speelgoedmuis waarop jy per ongeluk trap nie.
Geen resies jaag in die middel van die nag deur jou huis nie.
Geen warmte wat op jou skoot spring wanneer jy TV kyk, of teen jou bors kom lê en na jou hartklop luister om rustig te word.
Ja nee. ‘n Wêreld sonder katte klink maar vaal. Asvaal.