Hierdie is nie net sommer enige Kewer nie. Aikona! As jy dors word, stop en drink jy ‘n koppie varsgemaalde koffie sommer so uit die venster uit.
Hierdie koffie-kewer is die blink idee van Henry Britz (38), ‘n boerseun van die Vrystaat. Hy ken sy koffie en Covid-19 het die wiele vir hom behoorlik aan die rol gesit.
“Dit is ‘n ten volle funksionele 1974 VW Beetle wat ek in ‘n mobiele coffee café omskep het. Dit loop op ‘n kragopwekker of kan by ‘n nabygeleë kragpunt ingeprop kan word”, vertel Henry.
“Ek het eers ‘n koffiewinkel gehad, maar wou nog altyd mobile gaan met koffie. Daarna het ‘n koffie sleepwaentjie gevolg, getrek deur ‘n fiets, maar dit was te swaar om te trap. Onthou so koffiemasjien weeg 40 kg! Ek het toe besluit ek moet ‘n voertuig kry. Maar dit moet die regte een wees wat ook aandag sal trek. Dis hoekom ek gegaan het vir die klassieke look. ‘n Volkswagen Beetle is nog nooit gedoen nie. En dit is ‘n klassieke kar. En ja, dit was die begin!”
Maar hoekom die naam, Road Rage?
Henry lag, ”‘n Beetle is nie ‘n baie vinnige motor nie. En die ou wat agter my ry kry dalk road rage omdat ek stadig voor hom ry. So as hy met bultende vuiste uit sy groot 4×4 storm, bied ek hom ‘n koppie boeretroos aan!”
Nie net kan jy hoor dat Henry ‘n passie het vir wat hy doen nie, jy kan dit proe ook. Hy verkoop Pilot van Eighteen Coffee, die vorige Blitsbokkaptein Kyle Brown, Cecil Afrika, en Phillip Snyman se besigheid. Hulle het gehou van sy konsep en gevra om deel te word van Road Rage.
Hy deel verder, “Die koffiebone word ingevoer van Colombia af en word gerooster in Stellenbosch. Hulle het verskillende geroosterde koffies. Soos byvoorbeeld die Spoorsnyer — wat die donker geroosterde koffie is. Dan het hulle ‘n single origin en my kliënte se gunsteling, Pilot. Hul handelsmerk, Eighteen Coffee, gaan ook nog op die Kewer kom en daar is ook die Eighteen Coffee Shop in Dorpstraat in Stellenbosch.”
In Gobabis het ‘n man gebly wie altyd gesê het: Jy kan bankrot wees, maar jou planne mag nooit opraak nie! En daarvan het Henry meer as genoeg.
Vir Henry stop dit nie by een Kewer nie. Hy wil baie graag ‘n tweede een aanskaf en selfs later aanlyn gaan waar jy van die koffiebone by hom kan bestel. Dan het hy ook planne om ‘n Road Rage klerereeks te begin. Gepaardgaande met sy entoesiasme, gaan hierdie man met sy Kewer(s) en koffie dit nog ver bring.
Hierdie VW Beetle koffiewinkel is ‘n eerste in sy soort en Henry beloof om nie net die beste koffie voor te sit nie, maar ook vermaak te bied aan sy kliënte. As dit moet, maak hy sommer musiek vir die hele buurt en hy het ook gratis Wi-Fi vir sy kliënte en medeverkopers wie hom ondersteun.
As jy al ooit die lang pad gevat het tussen Mariental en Keetmanshoop in Namibië, kan mens maar net wens dat hierdie koffie-kewer êrens langs daardie pad onder ‘n koelteboompie sal staan. Maar vir nou, wees gerus op die uitkyk vir Road Rage by Seepunt, Blouberg se strand, en plaasmarkte.
Gaan loer na Road Rage op Facebook en Instagram om te kyk waar jy hom Saterdag of Sondag kan opspoor vir ‘n lekker geselsie oor ‘n koppie koffie!