Franschhoek is ’n geurige pretpark vir enige fynproewer. Hier staan die wyn en kos terug vir niemand nie en restaurante en wynplase ryg die toekennings die een na die ander in. En dit kom as geen skok dat hierdie boland dorp, alombekend as Suid-Afrika se koskapitaal, TIME tydskrif se lys gemaak het van die World’s Greatest Places of 2022.
Franschhoek is slegs ’n uur weg van Kaapstad en word omsoom deur die Groot Drakenstein-, Franschhoek- en, Simonsberge. En natuurlik is daar meer as net goeie wyn en ’n trem wat loop tussen al die plase. Daar is avontuur vir stappers en fietsryers, moderne kunsgalerye soos Ebony/Curate en Manz Art, spa’s by die dosyne, ’n Saterdagmark, en selfs die geleentheid om te valskermsweef. En as jy tuininspirasie soek sal Babylonstoren en Boschendal jou groen vingers behoorlik laat jeuk.
Van die plekke wat TIME voorstel om te besoek is Paul Siguqa se Klein Goedrust, Franschhoek se eerste wynplaas in swart besit, en dan ook Dieu Donné Vineyards met sy splinternuwe restaurant, Country Grand.
Die wêreld se beste bestemmings vir 2022 volgens TIME
Die bestemmings wat TIME se 2022 lys van die wêreld se beste bestemmings gemaak het bestaan uit gesogte gunstelinge soos Australië se Groot Koraalrif, maar ook minder bekende plekke soos El Chantén in Argentinië. En as daar iets is wat al hierdie 50 bestemmings in gemeen het is dat hul floreer, groei, en verander, ’n weg baan vir ekonomiese herstelling en belê in volhoubaarheid.
Ander plekke in Afrika wat Franschhoek vergesel is Nairobi en Kigali as die stedelike gunstelinge, en die Laer Zambezi Nasional Park in Zambië. Vir ‘n volledige lys, gaan loer hier.