Eseltjiesrus: hier kan donkies aftree

Naby McGregor is daar ‘n plek waar mishandelde en bejaarde donkies ‘n permanent tuiste kan vind.

Die Langverwagtenpad kronkel deur die sprokiesmooi landskap van die Breederivier in die Wes-Kaap op pad na die klein kunsdorpie, McGregor.

Ons bestemming is ongeveer 5 km voor McGregor, Eseltjiesrus — ‘n aftreeoord vir donkies, veral mishandelde donkies, en hier kan hulle net kom donkie wees terwyl hul bederf word deur mense wie werklik omgee en hul met liefde versorg.

Dr. Johan & Annemarie van Zijl het in 2001 gereageer op ‘n versoek van die DBV Suid-Afrika om skuiling te bied vir twee erg verwaarloosde donkies. Hulle is met liefde en ope arms ontvang en is Vaal en Japie gedoop.

Dr. van Zijl en sy vrou het besef dat daar baie ander soos Vaal en Japie is wie versorging en voeding nodig het.

Daar is min dinge so aangenaam soos ‘n bejaarde, gelukkige donkie. Kniel om in sy oë te kyk en jy sal nederigheid, wysheid, kennis van lyding en aanvaarding sien. Beste ou Japie is een van die ‘stigteresels’ wat in 2001 by die huis van die Van Zijls aangekom het, gehawend en gekneus deur jare by baksteenmeulens. Dit was die inspirasie vir die vestiging van Eseltjiesrus.” –  Annemarie van Zijl.

Eseltjiesrus

Mishandelde, weggegooide en bejaarde donkies — oftewel esels — het van Zoar, Ladysmith, Somerset-Wes, Wellington, Kaapstad, en Atlantis gekom om ‘n permanente tuiste te vind by Eseltjiesrus.

Daar was soveel navraag en donkies wat gehelp moes word dat ‘n te kort aan ruimte ontstaan het en dit het gelei tot ‘n dringende soektog na goedgekeurde pleeghuise.

Met baie ondersteuning en liefde van die publiek is Eseltjiesrus amptelik geopen vir besoekers op 24 November 2004. Natuurlik was dit ‘n groot geleentheid wat bygewoon is deur Suid-Afrika se eie beroemdes soos Eseltjiesrus se beskermheer, David Kramer, en selfs Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) was ook al ‘n kuiergas hier. 

Oor die jare het baie verlate en mishandelde donkies al hier ‘n holte vir hulle voete — of wag — hul hoewe, kom vind. En tans is daar 28 donkies by Eseltjiesrus self, twee in pleegsorg in McGregor, terwyl drie hulself in Franschhoek bevind.

Eseltjiesrus Donkies

Die inwoners hier word twee keer per dag drie verskillende hooisoorte gevoer en bejaardes, of donkies met spesiale behoeftes, kry bakkies sagte kos in ‘n aparte skuiling, twee keer per dag.

Elke donkie word minstens twee keer per dag versorg, nagegaan, en kry ‘n lekker uitborsel.

Oë en hoewe word skoongemaak, vliegafweermiddel toegedien, en enige klein wonde of infeksies word behandel. En selfs die tandarts lê besoek af.

Die terrein word intensief bestuur, besproei, mis verwyder en heinings word nagegaan. Die personeel is uiters professioneel en hulle doen hierdie werk met soveel liefde en deernis.

Eseltjiesrus McGregor

Interessant om te weet: Navorsing toon dat donkies verkies om in kleiner kuddes as perde te woon. Hulle is die gemaklikste in groepe van nie meer as ongeveer 20. Binne dit vorm hul kleiner subgroepe of gesinsgroepe, en vorm dikwels baie hegte vriendskappe in pare. Inmenging in hierdie verhoudings kan ernstige en selfs noodlottige stres veroorsaak.

Eseltjiesrus Donkies

Eseltjiesrus se visie is die bevordering van die welsyn en status van esels deur ‘n kultuur van omgee. En hierdie mense praat ‘n hartstaal; hulle verwelkom ook vrywilligers om met daaglikse takies te help, nadat hulle opgelei is.

Eseltjiesrus Restaurant is oop van 10:00 tot 16:00 — Donderdae tot Sondae — ook die tye wat besoekers die inwoners mag besoek. En onthou as die groepe groter as 6 is, moet daar vooruit bespreek word. Die kos is heerlik,  jy kan jou eie wyn saamgebring, maar probeer gerus die Eseltjiesrus wyn! En natuurlik moet jy ook ‘n draai maak by hulle boek- en geskenkwinkel. As jy langer wil oorbly, en iets aktief wil doen, is daar ‘n stap- en fietspad tussen Eseltjiesrus en McGregor, asook vele wynplase om te besoek in die area met ‘n verskeidenheid van verblyfopsies en doendinge in Robertson sowel as McGregor.

Gaan loer gerus in op hulle webwerf waar jy kan kennis maak met elke inwoner, en hul selfs ook aanneem.

DEEL HIERDIE ARTIKEL