Dubai maak reg vir ‘n Maanlanding van miljarde!

Nou het jy ook die kans om die maan te verken met Moon World Resorts se eerste maanoord in Dubai!

Nog nooit het die woorde “ag, vlieg na die maan met ‘n single ticket!” lekkerder (of meer bereikbaar) geklink as nou nie. Jy hoef nie eens ‘n spacesuit te koop om in Neil Armstrong en Edwin “Buzz” Aldrin se voetspore te volg nie!

Binnekort gaan dit alles moontlik wees by Dubai se Moon World Resorts te danke aan die ontwerp van ‘n Kanadese argitekfirma wat besig is om ‘n maanvormige oord te bou van bykans 5 miljard dollar!

Die woestynoase was nog altyd ‘n land van uiterstes, veral wanneer dit kom by hul argitektuur; van die Burj Khalifa (828 meter) tot die grootste ferriswiel, Ain Dubai, wat twee keer die hoogte van die Londen Eye is en 38 minute vat om een rotasie te voltooi. En nou bring hulle die maan nader, en dit blyk dat daardie 384 400 km afstand tussen ons die groot bol kaas in die ruimte veels korter is.

Verken die maan in Dubai

Met hierdie reuse toerismeprojek van Moon World Resorts Inc, wat na bewering binne slegs 48 maande gebou gaan word, hoop hulle om meer as 2.5 miljoen toeriste na die unieke ervaring te lok. Volgens die planne sal die maan sowat 224 meter hoog staan en omring word deur ‘n maankolonie met ‘n oppervlakte van 4 hektaar, wat vir besoekers ‘n meer bekostigbare vorm van toegang kan bied tot ruimteverkenning in toerisme.

Dubai Moon World Resorts

En as jy ooit op die maan wou bly is dit nou jou beurt want daar sal ongeveer 300 privaat wooneenhede, Sky Villas, te koop aangebied word. Maar afgesien van al die besienswaardighede, soos ‘n spa, nagklub en die Smooth Jazz Piano Lounge, sal die maan as die spilpunt staan vir ruimte-agentskappe se opleiding van hul ruimtevaarders. Die Verenigde Arabiese Emirate is nie net hier vir die toerisme nie, maar is doelgerig om voor te bly in die ruimtesektor en SpaceTech, met tegnologie, ruimteverkenning en satelliet kommunikasie.

Moon World Resorts Inc beplan ook om die lisensie vir nog vier maanoorde te skep in Noord-Amerika, Europa, MENA (Midde-Ooste/Noord Afrika) en Asië.

In die woorde van Moon World Resorts: 12 mense was al daar, 7 biljoen wil nog soontoe gaan.

Miskien moet jy tog daardie neongroen ruimtepak aanskaf. Sien jou op die maan in 2026!

DEEL HIERDIE ARTIKEL