Die Moeder met Sandra Prinsloo, boeiend by die Baxter

Die tasbare disoriëntasie van ‘n ma se leënessindroom.

Die Moeder, wat by die Baxter te siene is tot 29 April, is ‘n boeiende teaterstuk wat ‘n ma se leënessindroom in ‘n ekstreme vorm aanvat en ‘n tasbare disoriëntasie — tussen realiteit en waansin — agterlaat by beide die hoofkarakter, Sandra Prinsloo, en die gehoor.

Met medespelers, Dawid Minnaar, Ludwig Binge en Ashley de Lange, bevind Anna (Sandra Prinsloo), haarself in die ma-wees fase van haar lewe waar die ure van alleen wees oorweldigend is. Haar kinders het die huis verlaat en liefde gevind, haar man werk soms laat en sy bevraagteken alles. Het haar man ‘n verhouding? Is haar seun werklik terug by die huis? En dan klop die herinneringe van kinders grootmaak aan haar geheue: waarvoor was dit alles? Is dit alles realiteit of het waansin by haar ingetrek?

As kyker bevraagteken jy die fyn spel tussen realiteit en waansin ewe hard. En jy vind jouself in Anna se skoene. Of in die skoene van die medespelers. Hetsy jy die rol inneem van ma, man of kind. Alhoewel hierdie stuk ekstreem is proe dit tog bekend. Iets wat jy al self beleef het. En dit laat met jou ‘n ongemaklike gevoel van deernis.

Charl Föscher, is agter die kamera — want ja, hierdie toneelstuk speel voor jou af terwyl dele op die skerm agter die stel geprojekteer word. En die tyding en die posisionering van die kamera dra by tot die ongemaklikheid. Dit word ‘n spieël, vir die karakters en vir jouself.

Die Moeder (The Mother), geskryf deur Florian Zeller, was die eerste in sy familie-trilogie in 2010, en is gevolg deur die Oscar-bekroonde The Father en toe The Son. Al drie van Zeller se skrywe gaan oor die geleidelike aftakeling van rede wanneer tyd, geheue en die psigiese ewewig versteur word en die effek wat dit het op die karakter se naastes.

Die stuk (oorspronklik geskryf in Frans, en deur Christopher Hampton vertaal na Engels) is vertaal na Afrikaans en die gebeure is na ’n eietydse Suid-Afrika verplaas, deur Christiaan Olwagen, bekende regisseur vir flieks soos Kanarie en Poppie Nongena.

Die Moeder is vanjaar met drie kykNET Fiëstas bekroon: beste feesproduksie, beste regie (Christiaan Olwagen) en beste spel in ’n hoofrol (Sandra Prinsloo). Dié produksie het ook vyf Woordtrofees-toekennings verower.

Die Moeder is van 12 tot 29 April by die Baxter in Kaapstad, Engelse onderskrifte word saam met die stuk vertoon. Kaartjies kan gekry word by Webtickets.

DEEL HIERDIE ARTIKEL