Al van Egipte se toentertyd af bly katte maar net aandag trek. Op ons rekenaar- en foonskerms bring hierdie viervoetiges ure van eindelose vermaak in die vorm van memes, GIFs en videos. En iets soos die Internasionale Cat Video Fest bewys net weereens: katte is komediante en sielsmedikasie vir die mensdom in hul eie reg!
Die kat se snor: Internasionale Cat Video Fest
Die eerste Internasionale Cat Video Fest is gehou in 2012 in Minnesota en het meer as 10 000 mense (plus ‘n paar katte) gelok met die samestelling van oulike videos van reg oor die wêreld. Oor die jare het dit soveel aandag getrek dat die Cat Video Fest al in meer as 300 teatres gekyk is in die VSA, Kanada, en Europa. En nou, vir die eerste keer, kom hierdie fees ook Suid-Afrika toe!
Dit reën katte en katte in Kaapstad
Tussen 22 en 29 September kan die Internasionale Cat Video Fest gekyk word by die Labia (Oranjestraat 68) in Kaapstad. Kaartjies beloop R70 per persoon en daar is na die openingsaand (Donderdag) twee vertonings elke dag, een om 14:00 en die ander 18:15. Kaartjies is aanlyn beskikbaar.
Daar wag vir jou 70 minute van purr-fekte genot! Dit is ‘n samestelling van die oulikste en snaakste videos, animasies, en musiekvideos. En wanneer die kat weg is bly die muis kat baas, want hierdie fees samel ook fondse in vir verskeie diereorganisasies wat dag in en dag uit na hulle omsien en vir-altyd-huise soek vir katte.
Hier is ‘n lusmakertjie vir die Internasionale Cat Video Fest, nou vir die eerste keer in Suid-Afrika!