Ons almal het ‘n gunsteling uitlating of twee wat die lig sien as emosies hoog loop. Dalk stamp jy jou toon en sê “bliksem” of miskien is dit ‘n padvark wat jou teen die mure uitdryf as hy voor jou indruk; jou woede skiet van 0-100 km/h binne etlike sekondes en dit is net ef voor en ef agter.
Ja selfs die prim-en-proper tannie sê ook so elke nou en dan ‘n kraswoordjie. Al is dit saggies en agter haar hand. En hoe dan nou anders? Vloekwoorde is mós propvol emosie.
In ‘n onlangse artikel in die Vrye Weekblad duik joernalis, Elsabe Brits, diep in die geskiedenis in van vloekwoorde wat gly-gly af die tong rol in die Afrikaanse taal. Sy ondersoek ook hoekom ‘n taboewoord soveel lekkerder sê as ‘n sinoniem met die hulp van Steven Pinker, ‘n kognitiewe sielkundige en taalkundige van Harvard Universiteit.
In die artikel, ‘Vloek: Hoekom daai blou woorde so lekker van die tong afrol’, skryf sy, “Ons ervaring met vloekwoorde is diep in ons brein gesetel.”
Sy vertel verder dat volgens die taal- en breinfundi, Pinker, vloek ons op verskillende maniere: 1) Beskrywend, 2) Idiomaties, 3) Uitskellend, 4) Empaties, en 5) Katarties.
Brits se noukeurige navorsing lei tot ‘n bespreking van ‘n string woorde wat dalk nie vir die voorste kerkbanke bedoel is nie, sy praat van dié woorde se herkoms uit Nederlands, hoe dit gevorm het in volksmond en hoe woorde – soos bloody – in die vroë 1900s die oë blêrrie groot laat rek het.
Gaan lees die hele artikel. Dit is baie insiggewend.
Dalk leer jy iets, dalk verstaan jy jou brein ‘n bietjie beter, dalk kan jy aan jou woordeskat bou en breek of miskien sê jy net, ‘SIES’.
Maar onthou, as jy jou toon weer stamp, of daardie padvark laat jou rooi sien, daar is ‘n paar slimkoppe en navorsers wat ‘n studie gedoen het en bewys het dat om te vloek kan jou help om pyn beter te hanteer.
Eina. My donner, kan jy nou meer?