Onthou jy daardie eTV advertensie vir die aksieflieks oor naweke met die stem wat sê: skop, skiet en donner?
Wel, ‘n regte skop, skiet en donder-reeks kan binnekort gekyk word op Netflix. Dit sal die eerste Afrikaanse reeks op hierdie stromingsplatform wees met niemand anders as Arnold Vosloo in die hoofrol nie.
Vosloo het bekend geraak in Suid-Afrika in 1984 met Boetie Gaan Border Toe. En toe gaan hy Hollywood toe waar hy al meer as 90 grootskerm- en kleinskermrolle (gewoonlik as die ‘baddie’) losgeslaan het. Maar ten spyte van sy Hollywood-roem is sy liefde vir Suid-Afrika, en vir plaaslike produksies, nooit saam met hom land uit nie. Hy beskryf homself as ‘n Suid-Afrikaanse ‘boytjie’ wat deel wil wees van die Suid-Afrikaanse filmbedryf, en in ‘n onlangse onderhoud vertel hy dat hy bereid is om vir rande te werk, in plaas van dollars, want dit gaan nie oor geld nie, maar oor ‘n goeie draaiboek.
In die laaste paar jaar was Vosloo in Griekwastad en Silverton Siege, en nou is daar Ludik, die eerste Afrikaanse reeks op Netflix wat beskikbaar is vanaf 26 Augustus.
Die reeks volg die geheime Daan Ludik (Arnold Vosloo). Op die oog af lyk hy soos ‘n goeie ou; ‘n familieman in Pretoria-Oos met ‘n meubelbesigheid, maar jy weet wat hulle sê: stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.
Ludik se wêreld stort in duie soos hy probeer om sy besigheid te red uit ‘n gemors terwyl hy ook die tronk en die dood in die oë moet staar. Daar is ‘n geskietery, diamante wat gesteel word en verhoudinge wat getoets word tydens hierde 6-episode reeks.
Ander akteurs te siene in Ludik is Lizz Meiring, Terence Bridgett, Diaan Lawrenson, Zane Meas, Lea Vivier en ook Rob van Vuuren wat sy komediantskoene heeltemal opsy skuif met die uitdagende vertolking van Swys de Villiers.
Kyk die lokprent: