4000 Eilande in Laos

Welkom by Laos se Don Khone en die magtige Mekongrivier. Mens kan amper nie dink dat daar 4000 eilande uitgesprei lê in ‘n rivier nie!

Ek ry op ’n fiets deur die stofstrate van Don Khone eiland. My hand lig vriendelik as ek iemand verbygaan. Die plek is doodstil. Nêrens blêr musiek nie; ek hoor nie eers ’n radio nie. In my ore is slegs die kabbelende Mekong, die plons-geluid wanneer ’n gooinet die water tref en die fietswiel se sagte shh-shh-shh op die grondpad hoorbaar.

Don Khone

Don Khone eiland maak deel uit van die 4000 eilande in die suide van Laos. Daar is letterlik 4000 eilande (of selfs meer); sommige van hierdie eilande is net ’n boom, maar ander is weer so groot soos 32 km (in omtrek) en hierdie 4000 eilande lê uitgesprei in ‘n rivier! Daar words soms na hierdie rivier verwys as die ‘Magtige Mekong’ en in Laos se reënseisoen strek hy sy watermassa-arms tot 14 km (in breedte) van die een kant na die ander kant; hierdie rivier deel ook grense met ander lande soos Burma, Thailand, Kambodja en Viëtnam.

Don Khone Laos

Al manier om Don Khone se stofstrate aan te durf is met ’n fiets. Hier en daar sien jy ’n bromponie en as jy gelukkig is gewaar jy ‘n ding met vier wiele wat alreeds vir jare dormant staan.

Vir slegs 10 000 Kip ’n dag ($1) huur jy ’n fiets om al die stofpaadjies na hartelus in te vaar. Dit moeilik om te verdwaal, jy volg net die rivier. Die pad is klipperig en soms sanderig en mens leer ook vinnig-vinnig dat ‘n fietswiel in los sand jou tot stilstand bring. Jy dink nog jy trap en dan vlieg jy sommer so bo-oor die fiets.

Al die fietse hier is natuurlik van top gehalte, gemaak in Sjina…

Óf dit nou ’n bergfiets óf padfiets sal niemand weet nie, want daar is geen ratte nie en al rem wat werk is die kantremme: jou voete. Top gehalte uit die vyftigs.

Jy trap verby die gaafste Lao mense en sê-sing Sabaideeeee tot dit by jou ore uitkom, kinders hardloop na jou en praat in ’n komplekse krulletjie-en-draaitjie taal en die diere lê lui in die middel van die pad en bak in die namiddag son. Hondsterte swiep en swaai vlieë weg, varke knor in ’n lae toon, hoenders pik-pik rond en statige waterbuffels vind ‘n lafenis in die Mekong.

Effektief. Eenvoudig. Genoeg.

Don Khone Laos

Hier is die mense nog onaangeraak deur ons moderne wêreld van slimfone en die nuutse moet-hê items. Hier het elektrisiteit het eers ’n paar jaar terug sy verskyning gemaak, warmwater storte is skaars en ’n goeie matras is nêrens te vinde, maar dit is hoe dit hoort.

Dit is die lewe van Don Khone, oftewel, die lewe van Laos – ’n rustig-tóg-besige-lewe – ’n kontraslewe. En hier pas jy aan, hier volg jy die ritme van die rustig-tóg-besige-lewe en jy kyk die son in sy ondergang in, want hierdie deel van die wêreld is ’n stukkie  stofstraat-paradys op sy eie met palmbome, blou lug en kragtige watervalle wat in Kambodja in plons.

Hou die Westerse wêreld en al sy té-dinge hier uit en trap ’n fiets, groet almal met ’n Sabaidee, waardeer ’n sonsondergang vir ure, stort koud, word gebyt deur goggas, staar, word stowwerig en word oorweldig deur die eenvoud van die lewe, want dit is hoe dit hoort.

Effektief. Eenvoudig. Genoeg.

DEEL HIERDIE ARTIKEL